‘n Sesde uitgawe van die HAT

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) is vir die eerste keer in 1965 uitgegee. In 2015, 50 jaar later, staan die geliefde woordeboek sy plek steeds vol in byna elke Afrikaanse huishouding in ons land. ’n Omvattend herbewerkte en uitgebreide uitgawe van die HAT is op 25 Junie bekend gestel. Met hierdie sesde uitgawe, nou oral op die rakke, vier die HAT vanjaar sy eerste halfeeu. Die behoefte aan ’n Afrikaanse handwoordeboek is reeds in 1926 raakgesien, maar die droom het 40 jaar later eers werklikheid geword. Die eerste uitgawe van die HAT, met P.C. Schoonees, C.J. Swanepoel, S.J. du Toit en C.M. Booysen as redakteurs, het in 1965 die lig gesien. In die daaropvolgende 50 jaar het die HAT verskeie mylpale bereik. Op verskeie terreine, van skole tot in die media, word die woordeboek vandag daagliks as gesaghebbende bron geraadpleeg. Vanaf die tagtigerjare word die HAT, wat die betekenisse van woorde betref, ook as outoriteit in howe aangehaal. Die derde uitgawe, wat in 1993 verskyn het, was in 1998 een van die eerste Suid-Afrikaanse woordeboeke wat op CD-ROM beskikbaar gestel is.

In 2000 het prof. Rufus Gouws van die Universiteit Stellenbosch hom by prof. Francois F. Odendal, redakteur van die tweede en derde uitgawe, aangesluit. Saam het hulle aan HAT 4 en 5 gewerk. Odendal, wat in 2013 oorlede is, is in 2005 vir sy meer as 30 jaar lange toewyding tot werk aan die HAT vereer. Gouws, wat n. 2005 as mederedakteur aanbly, het tydens die bekendstelling van HAT 6 op die Nitida-wynplaas naby Durbanville die doel van die woordeboek nader toegelig. Behalwe om as deurstopper te gebruik of om blomme in te pars, is die HAT, volgens Gouws,

’n bron wat “die bloeisels van Afrikaans wys” en ’n middel wat deure na die taal en kennis oopmaak. Net soos Afrikaans het die HAT oor die jare verander. Die sesde uitgawe is die eerste uitgawe waaraan twee redakteurs – Jana Luther en Fred Pheiffer – voltyds gewerk het, en gebruikers van hierdie nuwe uitgawe sal, volgens Gouws, ’n aansienlike vernuwing in die woordeboek bespeur. HAT 6 beslaan 1 636 blasye. Dit is 200 bladsye meer as die vorige uitgawe wat in 2005 verskyn het. Die totale woordtelling het van 1,5 miljoen tot 2,1 miljoen vermeerder. In die nuwe aanlyn HAT – waarop gebruikers by www.hataanlyn.co.za kan inteken – word meer as 3 000 argaiese woorde en uitdrukkings behou. Verouderde vorme (woorde wat vandag selde of nooit meer gebruik word nie) is egter uit die papierwoordeboek weggelaat om vir digby 4 000 nuwe woorde en uitdrukkings plek te maak. Die nuwe HAT weerspieël wat vandag in Afrikaans werksaam is, formeel en informeel, sê die redakteurs.

Gouws het groot lof uitgespreek vir die uitgewer, Pearson, “wat deur sy volgehoue ondersteuning in die digitale era aan die HAT en aan Afrikaans vlerke gee”. Aanlyn sal die HAT voortaan maandeliks bygewerk word, het Luther bygevoeg. Die nuwe HAT het selfs sy eie temalied, Dis my taal. Dit is geskryf deur Hilandi du Toit, wat dit saam met die kletsrymer Linkris sing. Luister daarna by www.youtube.com/watch?v=YME_pwIfzUY

Volg gerus ook die HAT op Twitter by: @AfrikaansVandag
Gaan na LitNet vir foto’s van die bekendstelling en ’n onderhoud met Luther is hier beskikbaar.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *